Share This Post

My ervaring met afstandsleer gedurende die koronavirus-herrie

My ervaring met afstandsleer gedurende die koronavirus-herrie

Skole is nou gesluit vir die vakansie. Indien die statistieke wys dat gevalle in Suid-Afrika aanhou styg wanneer skole weer moet open, is daar ‘n moontlikheid dat skole steeds sal moet toebly. Of ons nou nog vakansie gaan verloor en eerder toebly en of skole gaan funksioneer deur afstandsleer, weet niemand nie. Dit help egter om te weet hoe jy, as onderwyser voorbereid kan wees en waar jy hulpbronne kan kry om jou kinders te help om van die huis af te leer. 

As ‘n voorbeeld, maak die skool waar ek werk weer die 31ste Maart oop. Die kinders kom nie terug nie. Ons ook nie. Maar onderrig en leer gaan voort. Ons het skielik gesluit nadat ‘n ouer positief vir COVID-19 getoets is. Voordat ons gesluit het, was ons gewaarsku oor wat dalk mag gebeur, en dat ons moet voorbereid wees. Min het ons geweet dat dit amper die volgende sal gebeur! 

Ons moes in ‘n herrie ‘n werkplan vir die laaste week van skool uitwerk. Dis nie ekstra vakansie nie en kinders kan nie agter raak nie. Oor die naweek het onderwysers aan die werk gespring en die Maandag daarna het kinders presies geweet wat hulle moes doen vir die week. Dit klink natuurlik asof dit seepglad verloop het, maar die eerste week van afstandsleer was definitief ‘n leerskool vir almal. Ouers, leerders, onderwysers en die skoolbestuur het baie vinnig geleer dat almal ‘n poging moet maak om saam te werk.

Natuurlik help dit dat die skool meer hulpbronne het en kinders meestal toegang tot internet by die huis het. Daar is egter kinders wat glad nie toegang tot rekenaars en internet het nie, en ons moes ook ‘n plan beraam om hulle te help. Veral die grondslagfase het werkpakke bymekaar gemaak sodat ouers dit by die skool kon afhaal. Intermediêre fase onderwysers het ook dieselfde gedoen vir kinders wat beperkte toegang tot internet by die huis het. 

Ons is ‘n Google-skool, wat dinge reeds baie makliker gemaak het. Baie van ons werk is reeds op Google Drive gelaai. In ons intermediêre fase, waar kinders baie deur ‘n projekgebaseerde-benadering leer, was die werk reeds aanlyn en kinders kon voortgaan met die werk wat hulle reeds in die klas in hulle groepe aangepak het. Vir ander vakke soos Wiskunde, Afrikaans, Engels, hul derde taal Hebreeus en die ander vakke, was dit egter nie so maklik nie. 

Ons het geleer dat ons eerder moet afskaal en minder van die kinders in hierdie week verwag. Alle onderywsers het nie van die begin af saamgewerk nie, en kinders was toe ‘n bietjie met 10 verskillende Google-klaskamers en 100de e-posse van onderwysers gebombardeer. Dit was nie heeltemal duidelik wat kinders eerste moes aanpak nie. Die graadsesonderwysers het ‘n goeie rooster uitgewerk, met tye wat spesifiseer wat kinders teen die einde van daardie “les” moet doen. Onthou dat kuns, musiek, LO en al die ander vakke ook belangrik is. Kinders kan nie net heeldag agter ‘n rekenaar sit en werk nie.

Indien julle Google Classroom gebruik, maak ook seker dat julle die werk beter kategoriseer. Sit dit onder hofies onder “classwork” en moenie te veel in die “Feed” plaas nie. Dit raak regtig deurmekaar en baie oorweldigend. Wat beter kan werk is om ‘n Google Site op te stel (dis baie vinnig en maklik) en daarop kan die daaglikse werk verskyn. Skakels vir verskillende vakke, video’s wat gekyk moet word, e-boeke wat gelees moet word en bladsye wat dalk in hulle werkboeke fisies gedoen moet word, kan alles daarop gelaai word. Een Google Classroom per klas werk ook ‘n bietjie beter uit. Die klaswerk (onder Classwork) kan volgens die dae van die week gekategoriseer word.

Ek het ook ‘n Google Hangouts Meet saam met my graadsesse probeer. Dit was eintlik maar net sodat hulle met mekaar kan gesels, hulle onderwyser kan sien en voel asof hulle in ‘n klas is. Dit was ‘n bietjie van ‘n nagemerrie aan die begin, want kinders het almal oor mekaar gepraat en was heeltemal te opgewonde. Na ‘n rukkie kon ek hulle darem kalmeer en het van die Chat-funksie gebruik gemaak om te sien wanneer kinders vrae het, in plaas daarvan dat almal tegelyk praat. Dis baie moelik om virtueel klas aan te bied. Baie van wat in die klas aangaan, hang van lyftaal aan. Jy lees gewoonlik kinders se lyftaal om te sien of hulle verstaan of nie. Hulle lees ook jou lyftaal en baie maklik aflei wanneer dit tyd vir vrae is, of wanneer hulle iets in hul boeke kan doen, ens. Aanlyn is dit bietjie anders en dis belangrik dat jy reëls vir aanlyn lesse neerlê voordat jy dit aanpak. Ek wens ek het!

Daar is baie e-leer platforms wat tans gratis toegang tot hul platforms bied. Dit kan jou baie help met voorbereiding en ook om te sien of jy wel die platform in die toekoms wil gebruik. 

Waar kan ek hulp kry?

  • Baie onderwysers deel van die #ZAEdu-gemeenskap, wat maandeliks ‘n Twitter chat aanbied, het hulself beskikbaar gestel om hulp te verleen aan skole of individue wat dit nodig het. Daar is ook hulpmiddels wat bymekaar gemaak word.
  • Google het ‘n nuwe webblad bekendgestel wat onnies help om hul produkte vir afstandsleer te gebruik. Loer hier in om meer daaroor te leer.
  • Amazing Educational Resources het ‘n lys van hulpmiddels wat gratis beskikbaar gestel word gedurende die tyd wat skole toegemaak word. 
  • Op Teacha! is daar honderde gratis hulpmiddels (en reeds-uitgewerkte lesse) wat onnies sowel as ouers kan aflaai om voorbereiding te verminder. Hier is ‘n lys van algemene gratis hulpmiddels en hierdie grondslagfase hulpmiddels help ook baie. Jy kan ook Teacha! se tydskrif lees vir idees
  • Indien kinders nie biblioteke kan besoek nie, is dit ‘n goeie idee dat jy jou skool op Snapplify se Engage-platform registreer. Daar is 50 000 + gratis e-boeke beskikbaar. Jy kan ook jou hulpmiddels daarop laai (ook video’s en stemopnames) sodat jou leerders toegang daartoe het. Vir die grondslagfase is daar veral oulike leesboekies en stories. Onderwysers het ook toegang tot Snapplify se Teacher Benefits program, wat beteken dat jy hierdie jaar gratis toegang tot die Antwoord-reeks se katalogus kan verkry. 

Ek het verlede kwartaal ‘n paar werkswinkels vir onderwysers by ons skool aangebied en hierdie behoort julle te kan help om lesse uit te werk aanlyn en ook julle bekend te stel aan ‘n paar aanlyn platforms. Dis hier onder beskikbaar:

Het jou skool ook toegemaak weens Covid-19? Laat weet ons hier onder wat julle planne is/was!

Lees verder:


Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.